MUN WAARDES EN HOE DIT GEINTERPRETEER BEHOORT TE WORD.

Deur Johan Loubser, AFGRI Veevoere

 

Wat is Melk Ureum Stikstof?

Melk ureum stikstof (MUN), die konsentrasie van ureum in melk, is ‘n instrument om die doeltreffendheid van ru-proteïenbenutting in melkkoeie te monitor.

In die rumen degradeer mikrobes dieet proteïen na ammoniak. Wanneer ammoniak tesame met fermenteerbare koolhidrate in die rumen teenwoordig is, kan rumen-mikrobes die stikstof benut en as aminosure in mikrobiese proteïene vaslê. Oortollige ammoniak in die rumen word egter oor die rumenwand geabsorbeer en na die lewer geneem om na ureum omgeskakel te word. Ureum beweeg vrylik oor selmembrane dmv. diffusie. Dus, as bloed ureum stikstof (BUN) waardes verhoog word, sal MUN waardes ook verhoog. As MUN-waardes hoog is, is jou kudde bes moontlik besig om voerproteïen te vermors asook om oortollige stikstof in die omgewing vry te stel. Indien MUN-waardes egter te laag is, kan die rumen-bakterie-opbrengs verminder word en sodoende melkproduksie en melkproteïen-opbrengs beperk.

Faktore wat MUN beïnvloed

Die belangrikste faktor is die voorsiening van voldoende rumen degradeerbare koolhidrate om die nodige energie vir die rumen-mikrobes te voorsien om ammoniak in mikrobe proteïen om te skakel.

 

Die volgende voedingsituasies kan hoër MUN-waardes in jou kudde tot gevolg hê:

  1. Rantsoene hoog in Ru-Proteïen – Oormatige ru-proteïen in die rantsoen lei tot proteïen vermorsing.
  2. Rantsoene met te veel rumen gradeerbare proteïen (RDP) en/of oplosbare proteïen kan MUN verhoog, selfs as rantsoen Ru-proteïen normaal is.
  3. In geval van asidose in kudde – mikrobe proteïen groei word inhibeer en ammoniak nie benut nie.
  4. Rantsoene laag in fermenteerbare koolhidrate (bv. stysel, suiker, en/of verteerbare vesel) kan mikrobe groei verlaag en aanleiding tot hoër MUN gee.

 

Ander faktore wat ‘n rol speel

  • Water inname: Hoër waterinnames lei tot hoër urine produksie wat MUN verlaag.
  • Droë Materiaal Inname (DMI): MUN is normaalweg op sy hoogste 6 ure na ‘n voeding en op sy laagste net voor ‘n voeding.
  • Tyd van voeding relatief tot melking: MUN is normaalweg laer in voormiddag (AM) melkmonsters teenoor namiddag (PM) monsters.
  • Melkproduksie vlak: MUN is hoër in hoogproduserende melkkuddes.
  • Metode van voeding: Aparte voeding in stal gee aanleiding tot hoër MUN waardes vergeleke met ‘n totaal gemengde rantsoen.
  • Pariteit: MUN is hoër in meer-laktasie koeie.
  • Seisoen: Hitte stres verhoog MUN waardes.
  • Melkfrekwensie: Kuddes wat 3 keer per dag gemelk word toon gewoonlik hoër MUN waardes as kuddes wat 2 keer per dag gemelk word.
  • Ras: Holsteins toon normaalweg laer MUN waardes (woord hoofsaaklik toegeskryf aan hoër liggaamsmassa teenoor ander suiwelrasse bv. Jerseys)

 

MUN teiken waardes en riglyne:

Kuddes kan verskillende optimale MUN waardes hê weens verskeie faktore soos reeds genoem. Die waarde van MUN-toetse is egter om veranderinge in voer-en bestuursprogramme binne ‘n kudde te moniteer. Daar is oor die jare verskeie grense t.o.v. ideale MUN waardes gepubliseer wat interpretasie uitdagend kan maak. Sommige Navorsers beveel ‘n band van 10 – 14 milligram per desiliter (mg/dl) aan terwyl ander ‘n band van 8 – 12 mg/dl aanbeveel. Die band van 8-12 mg/dl word nou al meer as ideaal beskou weens die vermoë van voedingkundiges om rantsoene m.b.v. biologiese modelle (bv. AMTS) meer akkuraat te balanseer t.o.v. rumendegradeerbare proteïen en koolhidrate, aminosuur behoeftes van diere ens. om oortollige rumen-ammoniak en uitskeiding te beperk.

Riglyne:

  1. Ontwikkel ‘n MUN basislyn wat “normaal” is vir jou kudde (waardes kan wissel van 8 tot 14).
  2. Wanneer die plaas basislyn verander met meer as 2 of 3 punte (normale variasie), kyk vir veranderinge in jou kudde en voedingprogram wat hierdie MUN skuif veroorsaak het.
  3. Kyk op weeklikse-, maandelikse- en seisoen gemiddeldes omdat groot variasies van dag tot dag kan voorkom.
  4. MUN-waardes tussen verskillende toetsinstansies kan varieer as gevolg van verskille in apparaat en monsterneming.

Wanneer daar dus vasgestel word dat MUN-vlakke buite normale bande is, ondersoek die rantsoen, melkkomponente, voedingsbestuur en voedingstofbalanse. Lae MUN waardes (<8-10 mg/dl) impliseer gewoonlik ‘n moontlike tekort aan dieet proteïen wat tot lae bakteriële proteïen vorming aanleiding gee en sodoende melkproduksie asook melkproteïen opbrengs verlaag.

Hoë MUN waardes (>12-14 mg/dl) kan geassosieer word met oortollige dieet proteïen of ‘n wanbalans van rumenproteïen, proteïen fraksies en energie (nie-strukturele koolhidrate). Hierdie faktore kan dus ook verband hou met ‘n verlaging in melkproduksie, ware melkproteïen asook voerdoeltreffendheid. Hoë MUN-waardes dui op vermorste voerproteïen en meer energie wat deur die koei gebruik moet word om die oormatige proteïen deur urine uit te skei. Dit beteken ook dat oortollige stikstof in die omgewing uitgeskei word.