‘n Gesonde lewer lei tot ’n gesonde koei
Deur Nico Bisschoff, tegniese formulasiebestuurder, AFGRI Veevoere
’n Koei se lewer weeg sowat 1,3 tot 1,6% van haar liggaamsgewig en vereis ’n groot hoeveelheid energie om al die relevante metaboliese funksies te verrig. Die lewer verrig verskeie rolle in die metabolisme van glukose, lipiede en proteïene, sowel as ketogenese, immuunfunksies, ammoniak-ontgiftiging, steroïedhormoonkatabolisme, vitamiene en mineraalmetabolisme en talle ander prosesse.
Die koei se fisiologiese stadium het ook ’n groot uitwerking op die lewer se werkslading. Tydens die oorgang van dragtig na lakterende vind ’n magdom prosesse in die koei plaas, soos ’n verandering in metaboliese vereistes en die verskillende metaboliete wat daarmee gepaardgaan. Die koei is gedurende dié tydperk in ’n negatiewe energiebalans omdat haar
vereistes baie hoër is as wat deur haar inname voorsien kan word. Al bogenoemde faktore veroorsaak dat die lewer ’n beperkte metaboliese kapasiteit het.
Glukose en laktose
’n Koei in vroeë laktasie se energiebehoeftes kan drie keer meer wees as normaalweg. ’n Koei wat 36kg melk gee, gaan sowat 3kg glukose slegs vir melkproduksie benodig. Die koei neem baie min glukose direk vanuit haar dieet op, as gevolg van die fermentasie van koolhidrate in die rumen.
Die meerderheid van die glukose wat vir weefselfunksies benodig word en die laktose wat vir melksintese benodig word, word in die lewer geproduseer. Die belangrikste substrate wat in die lewer gebruik word, is propionaat, asetaat en aminosure.
Vetneerlegging in die lewer is ’n groot probleem, veral tydens die oorgangstydperk van dragtig tot lakterend. Liggaamsreserwes word onttrek as gevolg van die negatiewe energiebalans waarin die koei verkeer. Die beperkte kapasiteit van die lewer om al die produkte doeltreffend te hanteer, lei tot vetneerlegging en die vorming van verskeie
ander produkte wat nadelig is vir die koei. Die vet in die lewer verminder verder die orgaan se kapasiteit om sy noodsaaklike rolle doeltreffend te vervul.
Moontlike probleme
Die belangrikste probleme wat kan ontstaan as gevolg van die lewer wat suboptimal funksioneer, is vet in die lewer, verlaagde vrugbaarheid, verhoogde inflammasie, verhoogde gevalle van verplaaste abomasum, behoue nageboorte en metritis, verhoogde gevalle van mastitis, ’n verlaging in melkproduksie en meer vroeë uitskotkoeie.
Dit is baie belangrik om bestuur tydens die droë tydperk al reg te kry ten einde newe-effekte op die lewer te verminder. Dit is gedurende hierdie tydperk belangrik dat koeie ’n goeie liggaamstelling van tussen 2,5 en 3 behou. Hul liggaamstelling moenie in dié tydperk meer as 0,5 afwyk nie.
Voer- en waterinname
Evalueer voerinname gedurende hierdie tydperk en kyk wat in die bakke oorbly. So kan ’n mens ’n idee kry waarom alles nie gevreet was nie, soos muf in die voer. Maak ook seker daar is genoeg vreetspasie vir die diere, sodat hulle gemaklik kan vreet en genoeg geleentheid het om vars voer te kry.
Genoegsame vars water is altyd belangrik. Maak ’n punt daarvan om gereeld daarna te kyk. Dit is ook baie belangrik dat diere tydens dié tydperk ’n gebalanseerde rantsoen moet ontvang vir die voorkalf- en vars periodes.
Koeigemak is noodsaaklik want stres het ’n negatiewe uitwerking op die lewer. Hittestres verminder byvoorbeeld die bloedvloei na die organe. Die bloed beweeg dan meer oppervlakkig om van die hitte ontslae te raak. Dit kan lei tot ’n verlaging in dermwandintegriteit en gevolglike endotoksiene van bakterieë in die bloedstroom, wat die lewer negatief kan beïnvloed.
Beskermende strategieë
Verskeie strategieë kan gebruik word om die koei se lewer te beskerm. Monensin is een middel waarmee die propionaatproduksie in die rumen bevoordeel word. So word meer substraat vir die lewer voorsien vir die vorming van glukose. Dus is die nood vir die gebruik van liggaamsreserwes minder.
Die oksidatiewe status kan deur die voorsiening van vitamien E en selenium verbeter word. Hoër vetvoorsiening in die vorm van beskermde vet en veral sekere vetsure het ’n beskermende uitwerking op die lewer, veral tydens die oorgangstydperk en vroeë laktasie.
Propileenglikol tydens die oorgangstydperk help ook om die negatiewe energiebalans te verminder en beskerm sodoende die lewer. Cholienaanvulling toon ook goeie resultate, maar dit moet in ’n rumenbeskermde vorm gegee word.