Die belangrikheid van Fosfaat aanvulling op weidings
geskryf deur Andries Kruger, hersien en verwerk deur Johan Loubser (Herkouerspesialis)
Fosfaat aanvulling op groen somerweidings, veral in meer ekstensiewe boerdery praktyke, is ‘n konsep wat al vir baie jare lank nagevors en bewys is. Die noodsaakliklikheid van fosfaat aanvulling kan dus nie genoeg beklemtoon word nie. Vir weidende diere, veral vleisbeeste, word fosfor aanvulling seker as die mees ekonomies belangrike makro-mineraal in Suid-Afrika (en regoor die wêreld) beskou, tesame met ander mikro-minerale (spoorelemente) soos sink, selenium, mangaan en koper.
Fosfaat aanvulling behoort dus ‘n algemene praktyk te wees vir enige veeboer.
Die biologiese belangrikheid van fosfor in die liggaam
Fosfaat is by vele metaboliese en strukturele prosesse (sel vermeerdering en verdeling ens.) in die liggaam van die dier betrokke en verrig as mineraal verskeie belangrike funksies, waarvan energiemetabolisme seker die mees algemene is.
Fosfaat speel dus ‘n belangrike rol in die omskakeling van weidingsenergie verkry uit die vertering van plantmateriaal na energie wat bruikbaar is vir die dier se verskeie liggaamsfunksies. Fosfaat verrig onder meer ander funksies soos bv. hulp met die regulering van die pH-balans in die liggaam, osmotiese druk, eierselontwikkeling (wat vrugbaarheid beïnvloed) en skeletontwikkeling. Dit speel ook ‘n belangrike rol in sel-differensiasie en groei. Die vervoersisteme van baie verbindings deur selwande word ook deur fosfaat bepaal.
Die meeste fosfaat (80%) kom voor in die beenstruktuur, wat as fosfor reservoir dien, tesame met kalsium en magnesium. Daar is ‘n voortdurende opname en mobilisering van fosfaat en kalsium vanuit die beenstruktuur, veral by dragtige en lakterende diere, om in hulle behoeftes te voorsien. Wanneer daar ‘n tekort aan fosfaat is, word die reserwes gemobiliseer en meer fosfaat verlaat die skelet as wat weer opgeneem en gestoor word. Sodra fosfaat vanuit die been geabsorbeer word, word kalsium en magnesium ook gemobiliseer, wat ‘n teken is dat fosfaat ‘n beduidende effek op ander minerale en steurnisse kan hê, veral wanneer daar ‘n tekort aan fosfaat is.
Daar bestaan ‘n noue band tussen fosfaat, kalsium en vitamien D, omdat al drie ‘n regstreekse invloed het op die fosfor metabolisme prosesse van die liggaam. Dit is dus baie belangrik dat die Ca:P-verhouding in balans moet wees (normaalweg 2:1), sowel as die vlakke waarteen vitamien D teenwoordig is. Indien een of die ander nie in balans is of teenwoordig is nie, sal die metaboliese prosesse nie optimaal kan plaasvind nie en die gevolg is dat die steurnisse of tekorte net sal vererger. ‘n Tipiese voorbeeld is melkkoors net na kalwing of in erge gevalle, artrose by vleisbeeste.
Die teenwoordigheid van te hoë vlakke van ander minerale kan ook ‘n nadelige invloed op fosfaat absorpsie hê. Wanneer kalsium, natrium, yster, aluminium of molibdeen in hoë konsentrasies in die drinkwater of grond voorkom, kan dit weens antagonistiese reaksies en bindings sekondêre fosfaat tekorte veroorsaak, omdat dit komplekse vorm wat fosfaat opnames ontoeganklik maak in beeste.
Wanneer word fosfaat aanvulling gegee?
‘n Tekort aan fosfaat kom in meeste dele van Suid-Afrika se weidings voor en word hoofsaaklik aangevul deur ‘n lek in die somerseisoen, wanneer die weidings in hul aktiewe groeistadium verkeer en verteerbaarheid en potensiële energie voorsiening vanaf weidings op sy hoogste is. Die meeste grondtipes in Suid-Afrika voorsien nie genoegsame fosfaat aan die plant nie en die fosfaat wat deur die weiding aan die dier verskaf word is gevolglik onvoldoende. Daarom is dit belangrik vir fosfaat aanvulling op groen weidings, veral aan laat-dragtige en lakterende diere.
Gedurende die somer is die beskikbare energie en ru-proteïen in die weidings voldoende, wat fosfaat aanvulling meer suksesvol maak. Fosfaat aanvulling kan egter tydens die droër wintermaande, wanneer die weidingskwaliteit baie afneem en die energie en ru-proteïen beperk is, nadelige gevolge, soos gewigsverlies, hê. Dit is belangrik dat indien fosfaat in die winter as byvoeding gegee word, dit met ‘n goeie ru-proteïen aanvulling gepaardgaan.
Hoeveelheid fosfaat per dag
Die doel van enige vorm van byvoeding is om die verskil tussen die dier se behoeftes en dit wat die dier uit die weiding kan kry te verskaf. Herkouers se behoefte aan fosfaat word bepaal deur die dier se fisiologiese status, die tipe dier en die fosfaat tekort in die beskikbare weiding. Die voorgeskrewe inname van fosfaat per bees per dag is soos volg: 6 g vir droë beeste, 9 g vir laat-dragtige diere en 12 g vir lakterende diere. Indien ‘n area uiters fosfor-arm is, moet die hoeveelheid met 3 tot 4 gram fosfaat per bees per dag verhoog word.
Simptome van P tekort:
Kliniese P tekort |
Subkliniese P tekort |
· Pika
· Dowwe haarkleed · Ragitis · Abnormale skeletontwikkeling · Lusteloosheid · Vermaering · Aptyt verlies · Stywe gewrigte · Omkrul kloue |
· Verlaagde vrugbaarheid
· Ongereelde hittesiklusse · Verlaagde weidings inname · Verswakte voeromsetvermoë · Verlies in melk produksie · Swakker speenmassas · Onderdrukte immuniteit |
Ekonomiese rol van fosfaat aanvulling
Fosfaat aanvulling speel nie net ‘n belangrike rol in die gesondheid van ‘n dier nie, maar hou enorme ekonomiese voordele vir die veeboer in. Daar word dikwels opgemerk dat fosfaat aanvulling te duur is, maar die feite spreek duidelik genoeg dat dit jou duurder te staan gaan kom indien jy nie fosfaat as byvoeding vir jou beeste gee nie. Die voordele soos verhoogde kalfpersentasie (reproduksie), speenmassas, melkproduksie, besetting en groei, is hoofsaaklik as gevolg van verhoogde weidingsinname, wat deur fosfaat aanvulling ondersteun word.
‘n Berekening is gemaak uit sestien proewe om die gemiddelde kalfpersentasiesyfers te bepaal van koeie wat fosfaat aanvulling gekry het, teenoor die kontrolegroepe wat geen fosfaat aanvulling gekry het nie. Die syfers stem ooreen met dié van Read (1984) waar koeie wat fosfaat aanvulling ontvang het ‘n kalfpersentasie van 80% gehad het en koeie sonder enige fosfaat aanvulling ‘n syfer van 51% behaal het. Read et al. (1986) het bevind dat speenmassas ook 27% hoër was by diere wat fosfaat aanvulling ontvang het. Deur net na hierdie paar syfers te kyk, kan mens klaar die ekonomiese effek van fosfaat bepaal.
Fosfaatlekke
Van alle lekke het fosfaatlekke die grootste ekonomiese impak tot gevolg. Daar bestaan ‘n magdom fosfaatbronne in die mark wat voorgeskryf word as fosfaat aanvulling vir beeste, hetsy klaarvervaardigde produkte, of konsentrate vir boere wat self lekke meng. Dit is krities belangrik dat veeboere verstaan dat fosfaatbronne se gehalte, biologiese geskiktheid en opneembaarheid baie kan verskil. Die produsent moet egter daarop ingestel wees om die beste gehalte fosfaatbronne te koop by geakkrediteerde instansies, wat die fosfaat- en kalsiumgehalte waarborg.
AFGRI Veevoere se fosfaat aanvulling PROFOS P6 (PROFOS 12 konsentraat vir selfmeng) is ‘n klaar gemengde fosfaat-soutspoorelementaanvulling vir herkouers op groen weidings, wat onderandere ook noodsaaklike spoorminerale, in die regte verhouding, bevat. Dit bevat ook 17% proteïen, addisionele suikers en stysels wat met die rumenfunksie, veral in mid-somerdroogtes, help.
Aanbevole inname vir PROFOS P6
Dier gram/dier/dag
Beeste | 150 – 240 g/dag |
Jong, groeiende diere | 100 – 120 g/dag |
Lakterende diere | 200 – 240 g/dag |
Droë koeie | 150 – 200 g/dag |
Skape | 17 – 40 g/dag |
Lammers | 15 – 18 g/dag |
Lakterende ooie | 25 – 40 g/dag |
Droë ooie | 20 – 30 g/dag |
Daar is ook ‘n PROFOS-konsentraat wat vir selfmengdoeleindes gebruik kan word, maar die konsentraat moet slegs teen die streng aanbevole aanwysings van ‘n AFGRI-tegniese adviseur gemeng word.
Om op te som: Elke veeboerderypraktyk in Suid-Afrika behoort ‘n mate van fosfaat aanvulling te gee. Die ekonomiese impak wat fosfaat aanvulling, veral op beeste het, is te groot om te ignoreer, veral gesien in die lig van die impak op besettingsyfers van vroulike diere.